Saam op Reis

Dit was ‘n Maandagaand, 1 Desember 2024 wat ek my uitnoding na die For Freedom Climb ontvang het (lees gerus “Eerste Skribbels op die Reis”). Die kinkel in die kabel was dat almal wat die uitnodiging aanvaar voor die Donderdag om 12:00 van daardie selfde week ons permitte moes betaal. Die uitnoding het iets gelui soos: “Julle moet bid om by die Here ‘n ‘Ja’ of ‘Nee” te kry en julle moet vinnig bid!” 🙂 

Daardie Woensdag, terwyl ek so met die Here gesels en hoor of ek wel mag gaan, dink ek aan Tiffany. Ek en Tiffany ken mekaar nog nie regtig goed nie; ons eggenote is vennote. Ek raak toe intussen weer besig met ander dinge.

Die volgende oggend – die oggend van die permitbetaaldag – gaan stap ek sommer gou in die buurt nadat Albertus en Emma by die deur uit is skool toe. Terug by die huis, hoor ek weer: “Tiffany.” Ek lag. “Here, Tiffany is ‘n ‘planner’ – daar is nie ‘n manier wat sy sal saamgaan op sulke kort kennisgewing nie!” 

Toe ek klaar gestort het, hoor ek weer: “Tiffany.”

“Nou goed, Here. #RadicalObedience. Dit maak nie sin nie, máár ek sal haar vra.” Sommer so via ‘n WhatsApp-bekbriefie. 

Ek kon dit nie glo nie! Tiffany het sommer dadelik gesê sy gaan!

Op goeie Engels sal hulle sê: “The rest is history.” As stapmaats het ek en Tiffany intussen al talle stappies saam agter die blad – oftewel onder die voete. Onder andere kon ons in die eerste week van Junie die lieflike Walvisroete doen.  

Ons kon ongelukkig nie as ‘n groep ‘n gesamentlike fondsinsameling hou voor die amptelike uitreik nie. Gevolglik het ons twee besluit om ‘n poging aan te wend vir die projekte waarvoor ons stap. En so is “A Journey of Faith, Feet & Freedom” gebore. 

A Journey of Faith, Feet & Freedom

Hiermee die amptelike teks en hart van ons veldtog. 

🌄 Ons stap vir vryheid!

Ons verruil tydelik ons uitsig op George-piek vir die asemrowende Machu Picchu!

Van 26 Augustus tot 10 September 2025 neem ons deel aan die For Freedom-uitreik – ’n geloofsreis deur Peru saam met 15 ander spanlede van regoor die wêreld. 

Buiten vir die fisieke uitdaging is hierdie staptoer ten bate van mense wat verskillende vorme van gebondenheid ervaar wat hul vryheid beperk.

“Dit is vir vryheid wat Christus ons vrygemaak het.” (Galasiërs 5:1)

Hierdie is meer as net ’n stap – dis ’n antwoord op ’n roepstem.

“Toe het ek die stem van die Here gehoor wat sê: ‘Wie sal Ek stuur? En wie sal vir Ons gaan?’ Toe sê ek: ‘Hier is ek. Stuur my!’” (Jesaja 6:8)

Ons stap vir bevryding van gebondenheid – ons breek die stilte sodat gebede beantwoord kan word vir die mense en plekke waartoe ons geroep is.

Oor die afgelope paar maande het ons begin om gereeld te stap en te klim. Nie net is dit voorbereiding vir die roete nie, maar ons ontdek ook hoe berge, stap en gebed hand-aan-hand loop. Van vars oggendlug tot uitsigte wat ons stom laat – elke stap is deel van hierdie voorbereidingsreis.

Hierdie blad help ons om fondse in te samel vir ’n gesamentlike teiken van R190 000 – dit dek persoonlike reiskoste en toerusting, sowel as bydraes tot die uitreikprojekte wat ons ondersteun (’n begroting is beskikbaar op aanvraag).

📝 As jy graag wil hê jou donasie moet direk aan die projekte gaan, voeg asseblief “PROJEK” in die verwysingslyn.

Ons stap vir twee sake wat baie naby aan ons harte lê:

  • Lighthouse – ’n rehabilitasiesentrum in Wildernis, Wes-Kaap, wat mense help wat geraak is deur verslawing en trauma

  • Aid for Ukraine Disabled – noodhulp vir mense met gestremdhede in oorloggeteisterde Oekraïne

Terwyl ons in Peru is, sal ons ook Asociación Vidas besoek en ondersteun – ’n bediening vir kwesbare bejaardes. Ons gaan ’n paar dae hier deurbring voordat ons die amptelike 5-dag Inca-roete aanpak.

As jy voel jy wil en kan bydra – deur gebed of finansieël – sal ons dit met dankbaarheid ontvang.

“Vra, en vir julle sal gegee word.” (Matteus 7:7)

Jou gebede en ondersteuning beteken vir ons onbeskryflik baie. Dankie dat jy saam met ons hierdie pad stap!

👉 Vir inligting oor al die projekte wat deur die For Freedom Climb ondersteun word, besoek gerus For Freedom | Ethnos Movement International. Hier kan jy ook die ander stappers ontmoet!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *