Bergsig Gemeente Stuur Ons Uit
Om op ‘n uitreik te gaan, verg baie beplanning en daar is verskeie bene waarop ‘n uitreik rus. Onder andere moet die logistiek van die uitreik beplan word (wie gaan, waarheen, wat is die doel, fondse, ens.).
Daar is egter ‘n komponent wat waarskynlik die belangrikste is – die geestelike aspek.
Ter voorbereiding van hierdie uitreik, het ek in my persoonlike lewe baie tyd en energie daaraan gewy. Is dit nie wonderlik nie hoe die Here met ons elkeen ‘n persoonlike pad stap, ‘n pad wat net jy en Hy ten volle kan begryp en waardeer. Soms gee Hy vir jou die regte woord op die regte tyd, of jy sien jou gunstelingboek se titel êrens onverwags, daardie oomblikke wat kliphard lui: “Ek weet dit is U, Here!”
Sedert ons na George aan die begin van 2021 verhuis het, noem ons Bergsig Gemeente ons geestelike tuiste. Ons is geseënd om deel van ‘n gemeenskap te wees wat aktief na mekaar en ander omsien.
Gevolglik is ek baie dankbaar dat Nati (Stander) en Marené (Pretorius), wat tans aan die stuur van Getuienis en Sending in ons gemeente is, aangebied het om my uit te stuur na Machu Picchu toe. Wat beteken dit? Alhoewel die For Freedom Climb ‘n projek is van Ethnos Movement International, stuur Bergsig my as lidmaat uit sodat ek die geestelike dekking van ons kerk kan geniet, hulle vir my kan intree en hulle my ook verantwoord kan hou in die proses.
Twee ander lede van ons uitreikspan, Tiffany Clark en Daréll Gerber (‘n dierbare vriendin), is saam met my uitgestuur om ook die addisionele geestelike dekking te geniet. Ons is dankbaar vir elke gebed, vir elke boodskap van aanmoediging, vir elke bydrae wat mense op hul eie unieke maniere lewer.
Hier is die video wat gespeel is tydens die erediens waarin ons uitgestuur is. Ek plaas ook die transkripsie daarnaas.
🎥Ons stap vir vryheid!
In Bergsig Gemeente glo ons dat God lewens verander, dat Hy ons stuur om sy liefde te leef.
Ek is Nadine Hamman, en saam met Tiffany Clark en Daréll Gerber, word ons vanuit Bergsig Gemeente gestuur om vanaf 26 Augustus tot 10 September deel te vorm van die For Freedom Climb soos deur Ethnos gereël. As ’n groep van altesaam 17 dapper stappers gaan ons die uitdagende Inka-roete in Peru, Suid-Amerika stap.
Die doel van die projek is om bewustheid te skep en fondse in te samel vir projekte regoor die wêreld, want gebondenheid neem verskeie verskeie vorme aan.
Spesifieke projekte waarvoor ons drie stap, sluit in:
Spesifieke projekte waarvoor ons drie stap, sluit in:
- Lighthouse – ’n rehabilitasie- en vaardigheidsentrum net hier om die draai in Wildernis, wat spesifiek fokus op mense wat geraak word deur verslawing en trauma;
- Aid for Ukraine Disabled – ‘n sentrum wat omsien na 40 mense met gestremdhede in die oorloggeteisterde Oekraïne.
- Love Looks Like Something (Blanco) – behels die oprig van ’n transformasiesentrum in Blanco vir kinders as die slagoffers van verslawing, mishandeling en armoede om hoop, genesing en nuwe geleenthede te bring aan hierdie gemeenskap.
Terwyl ons in Peru is, sal ons ook Asociación Vidas besoek en ondersteun – ’n bediening vir kwesbare bejaardes.
Ons gaan ’n paar dae hier bedien voordat ons die amptelike 5-dag Inca-roete aanpak.
Vir ons is dit dus ’n pelgrimstog van geloof, voete en vryheid, en alhoewel dit ons voetspore is wat op Machu Picchu gaan wees, stap nie net vir onsself nie – ons stap vir dié wat nie kan nie.
Bergsig, ons vra julle: bid saam met en vir ons, stap saam in gees, dra by op jou eie unieke manier en help ons om vryheid ’n werklikheid te maak vir ander.
Dankie dat julle saam met ons hierdie pad stap!
Meer inligting: Ethnos Movement International | For Freedom