Eerste skribbels op die reis

So sien dit uiteindelik die lig – my eerste blog. Dit moes tien teen een al jare gelede reeds geskryf gewees het, maar vertrou asseblief saam met my dat sy tydsberekening die beste, dat Hy alles ten goede laat meewerk. 

Kom! Kom saam met my! Dit sal vir my lekker wees as jy my hier geselskap hou, asb. Soos wat ek stap en skryf, kan ek nie wag om jóú storie te hoor, dat jy my vertel waarheen jý op pad is nie. 

Het jy al gehoor van Machu Picchu? Ja, daardie “Mysterious Cities of Gold” se temalied wat op die 1980s-kassie geblêr het. Dis waar ek gaan stap. Tussen die llamas en Inka-reüines, van die lughawe in Sao Paulo tot oor die hoogste piek van Dead Woman’s Pass (foei!) op die Inca-staproete, kort duskant die magtige Amasone. 

Machu Picchu, Peru

Van 26 Augustus tot 10 September 2025 neem ek saam met sestien ander mense – hoofsaaklik vroue – van regoor die wêreld aan die For Freedom-klim deel. Ek gaan tydelik my uitsig op Georgepiek in George, Suid-Afrika verruil vir die asemrowende Machu Picchu! 

Ek stap vir twee projekte wat my na aan die hart lê:

  • Lighthouse – ’n rehabilitasiesentrum in Wilderness vir mense wat gebuk gaan onder verslawing en trauma.
  • Aid for Ukraine Disabled – noodsaaklike hulp aan gestremde mense in oorloggeteisterde Oekraïne.

In Peru besoek en ondersteun ons ook Asociación Vidas, ’n bediening vir weerlose bejaardes. Ek sal in aanloop tot die uitreik meer op hierdie platform deel oor elkeen van die projekte. 

En ek? Hoekom stap ék?

Dit is alles daai dag in September 2019 se skuld. Ek en Albertus het pas ons eerste multidagstap voltooi en met baie genade was dit die ongelooflike Otterroete in die Tuinroete. Ons het destyds in Kempton Park, Johannesburg gewoon. Op die vliegtuig vanaf George op pad terug na OR Tambo, nadat my ore pas toegeslaan het tydens die opstyg, het Albertus op my skouer gelê en slaap. Ek – wat altyd graag by die venster wil sit – het uitgekyk op die manjifieke Outeniquaberge: “Om te dink daar is mense wat hierdie sig kan sien élke keer wanneer hulle by die winkel uitloop as hulle brood en melk koop,” het ek met ’n verlangende sug gedink. 

Tydsprong (Fast Forward): 

Ons verhuis na Kaapstad (einde 2019) → Covid (Maart 2020) → Emma se geboorte (Julie 2020) → Verhuis na George (Februarie 2021)

Met die hulp van Valerie Burton het ek laas jaar, in 2024, my eerste vision board geskep. Gryp sommer so prentjies van die internet af en vleg dit so in Canva saam – dis mos “slegs vir persoonlike gebruik”. Op die ou einde, heel regs, bo in die hoek, pryk daar ’n visionerende prentjie, een waarin my hart daarna smag om in hierdie Outeniquaberge te wees wat deesdae vir my sigbaar is elke keer wanneer ék brood en melk koop.

Foto van vrou wat op 'n bergpiek staan met wandelstok en uitkyk oor 'n bergreeks
Foto geneem van The Saunters: Garden Route Trails.

“Ek sal daar kom, byt net vas…” Ek werk al sedert Covid se dae van die huis af en dit is meer as gereeld wat die mure voel of dit die wind uit my ribbes wil wurg. Ek kom nie genoeg uit, kry nie geoefen nie, kom nie in die woud of die berg nie, dit gaan nie noodwendig aldag so goed met my nie. 

 

Ek versmoor! Die woud en berg is naby, maar dit voel so oneindig ver. Ek verlang om daarin te wees. Dit is in die woud, in die berg, wat ek die heel naaste aan my Skepper voel, wat ek die aanslag van die wêreld op my identiteit en tyd die minste fel ervaar, wanneer ek kan asemhaal en beweeg en droom en foto’s in my kop neem van elke kosbare oomblik van mooi. Hoe verskil die mooi nie! Daar is piepklein spinnerakke deurweef met doudruppels op die gras en daar is manjifieke, panoramiese uitsigte bo-op elke piek. God is God in die groot én die klein – alomteenwoordig en Hy is by my – met elke tree. Soos in die eertydse Tuin van Eden – ons wandel saam. 

Tydsprong (Fast Forward): 

Dis 1 Desember 2024. Emma is pas in die bed. WhatsApp-boodskap op my foon. Dis Hettie (Brittz): sy gaan weer ‘n Freedom Climb doen: “Ek wil solank net die geleentheid met mense deel wat ek graag mee saam sou wou stap!” ’n Krieweling in my borskas en onder my voetsole. 

WhatsApp-skermgreep met die teks: “Hi Hettie! Ek wil uit my nate bars van opwinding. Sit asb. my naam op die lys vir die stap. Ek gaan mooi daaroor bid, maar op hierdie stadium is my gebed soos volg: "Here, ek wil graag hierdie doen tensy U my duidelik keer!"

Tydsprong (Fast Forward): 

My vliegkaartjie is reeds betaal. Op 26 Augustus vertrek ek om saam met sestien ander dapper stappers om in die Andes-gebergtes in Suid-Amerika te gaan stap vir vryheid wat op unieke maniere vereis word – vir ander, vir onsself…

Wat van jou? Kom jy saam? So stuk-stuk langs die pad deel ek graag meer.

Dankie dat jy saamstap!

One Response

  1. So lekker om te lees! Wat ‘n reis!
    Is dit nie wonderlik hoe die Here elke legkaartstukkie in sy kinders se lewens op die regte tyd bou nie?

Leave a Reply to Annamarie Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *